Puik doendinge op Witsand


13 Jun 2014 deur Jon Minster
Puik doendinge op Witsand

DEUR JON MINSTER

Op Witsand is daar een ding wat almal doen, of jy nou die koerant by die kafee gaan koop of iemand by die sleephelling groet: Jy maak geselsies oor die weer. Veral oor die wind, en die rigting waaruit hy waai. In die somer is die suidoostewind ’n pyn in die watsenaam. Hy storm rivierop van die see se kant af, sit duine dóér neer en waai bankies langs die strand toe, en sorg vir ’n grinterigheid tussen jou tande.

In die winter swaai hy om en bring koue en nat van die berge in die binneland af, daar waar die rivier ontspring. Maar af en toe – as jy gelukkig is – bedaar die wind. Dan lê die Breërivier soos ’n spieël waarop wolke verbygly. Dan is dit só stil jy kan amper die walvisse in San Sebastianbaai hoor snork.

1. Vang jou eie aandete

Vang jou eie aandete

Hier kan jy op byna enige manier hengel: As jy die regte boot het, kan jy diepsee toe gaan (en seesiek raak) of rivier op vaar. Nie ’n boot nie? Dan kan jy van die oewer af ingooi met spinners, of selfs ’n bietjie dieper inwaad vir vlieghengel.

Almal droom van ’n kabeljou wat so groot is soos Ricky Januarie, maar jy kan net so in jou noppies wees met ’n gespikkelde knorder of ’n Kaapse stompneus. Maar onthou: die hengelregulasies is streng en seespietkops hier is knaend – moet dus nie te veel of ondermaats vang nie.

En sorg ook dat jy jou boot- en hengelpermitte by ’n poskantoor koop. As jy vergeet het om dit te kry, kry dit by die algemene handelaar The Sands (gesluit op Sondae).

Vra die boffins. As jy nie seker is of jy sardiens of tjokka moet gebruik nie, gaan gesels met Leon Pretorius by die Breede River-lodge (079 353 6199). Hy het seewater in die are en is nie suinig met sy kennis nie.

Gaan groot! Jy kan nie wéér jou skoonpa na die Curriebekereindstryd vat vir sy verjaardag nie. Verras hom met ’n diepseehengel-uitstappie. Kontak dié ouens: Witsand Charters op 082 667 1897.

2. Gaan kerk toe

Gaan kerk toe

Jy sal die van “Barry” oral in dié geweste teëkom – dis ’n handelaarsfamilie wat van die middel tot laat negentiende eeu sake in die Overberg oorheers het.

In daardie dae was dit omtrent ’n gedoente om goedere per ossewa na- en van Kaapstad te vervoer. Maar die Barry’s het ’n blink plan gehad: hulle het ’n stoomboot, die Kadie, in Skotland laat bou en dié het tussen Witsand en Tafelbaai gevaar. Anders as seilbote kon die Kadie die sandbanke in die riviermonding beter pypkan, by Port Beaufort (waar die Breede River Lodge vandag is) vasmeer, en ook verder rivier op stoom tot by die Barry’s se winkel by Malgas, waar die boere hulle produkte kon laai en ook aankope doen. Dié stoomskip het 7 jaar diens gedoen en 142 vaarte voltooi voordat dit in 1856 by die monding op die rotse geloop het.

Die mooi klipkerk in die Hoofstraat is ook te danke aan die Barry’s. Dis in 1849 gebou toe Port Beaufort gewoel het. Gaan neem laatmiddag ’n foto, wanneer die lig die mooiste val.

Dit is ook die beste tyd van die dag om ’n draai te gaan stap – die wind het dan al gaan lê. Vat jou vêrkyker saam, want jy mag dalk net walvisse in die baai sien baljaar.

3. Ry vlieërplank

Ry vlieërplank

Terwyl die meeste van ons teen die wind wil skuil, is daar sommige siele wat die suidooster geniet – die ouens met vlieërplanke. Witsand is al jare een van die wêreld se top vlieërplankplekke. “Die weer in die somer is puik vir vlieërplankry,” sê Lyzette Feldtmann van Pili Pili, ’n restaurant-en-watersportsentrum. “Die riviermonding kyk suidoos, direk in die wind in, en in die beskutte gebied agter die sandbank kan jy vir byna 2 km rieme neerlê.”

Pili Pili behoort eersdaags ’n instrukteur te hê wat besoekers kan touwys maak. Tot dan moet jy jou eie toerusting saambring en darem al ’n bietjie ervaring hê.

Of huur ’n SUP-bord. SUP staan vir “stand-up paddle” – dis daai lang branderplank waarop ’n mens regop staan en jouself met ’n lang spaan vorentoe roei.

Kontak 028 537 1783; pilipili.co.za

4. Skop stof op

Skop stof op

Rondom Witsand loop lekker grondpaaie waar jy stof op jou Fortuner kan sit. As die wind die emalje van jou tande af waai, mik noordwes met die R324 langs en volg die bordjies Malgas toe, sowat 30 km verder.

Vaar daar met die enigste handaangedrewe pont in die land (dis al sedert 1860 in gebruik) oor die rivier (slegs in dagligure) en gaan drink ’n Coke by die hotel.

Hierna kan jy vir nog sowat 35 km met agterpaaie langs ry tot by die De Hoop-natuurreservaat en tussen die fynbos gaan rondloop, elande dophou of die rotspoele by Koppie Alleen verken (toegang is gratis as jy ’n Wild Card het).

Vir 4x4-ouens is daar twee opsies naby Witsand: Ostrich Trails se roetes loop deur die heuwels langs die Slangrivier, en op die plaas Westfield kan jy in ’n duineveld met ’n uitsig oor die see kerjakker. Vir al twee het jy laestrek nodig.

Kontak Ostrich Trails (Piet Uys 028 537 1942) en Westfield (Guy Moodie 082 646 6196).


WEET VOOR JY WAAI

WEET VOOR JY WAAI

Beste tyd om te gaan? As jy wil visvang, Januarie en Februarie.

Hoe kom ek daar? Witsand is sowat 300 km oos van Kaapstad.
GPS S34.394782 E20.844266

EET EN KUIER HIER
•  Pili Pili (028 537 1783) by die Breede River Lodge maak alles van ’n ontbyt pizza tot toasties.

Waar koop ek melk en brood? Hier is twee algemene handelaars op die dorp: The Sands (028 537 1800) op die R322, en Nella se Winkel (028 537 1304) in Geelstertstraat. Jy kan by altwee kruideniersware koop, asook ysterware en hengelgerei. By The Sands kan jy ook brandstof ingooi.

Dís nou ’n bargain: By Nella se Winkel kan jy ’n sakkie klaargemaakte vetkoekdeeg koop. Saam met gouestroop en gerasperde kaas… nou praat jy!

Sweef soos ’n arend Die Kapenaar Keith Pickersgill besoek Witsand gereëld met sy enjinaangedrewe valskermswewer. Jy kan saam met hom opstyg en oor die riviermonding en kuslyn sweef – veral as dit walvistyd is.

Hoogtepunt: Kyk of jy op die rivier kan vaar – of dit nou op ’n boot, ’n SUP-bord of ’n kajak is. Die riviermonding is baie groot en ’n mens waardeer dit eers werklik as jy óp die water is.

Hou maar verby: Moenie op die strand gaan stap terwyl die suidooster waai nie. Dis net niks lekker om met ’n mond vol sand by die huis aan te kom nie.

Langs die pad gehoor: “Witsand is ’n veilige plek. As hier ’n misdaad gepleeg is, weet die polisie dis heel waarskynlik een van drie kalante…”

Kampvuurfeit: Hermanus kan hom wel ook op sy walvisse roem, maar San Sebastianbaai word nie verniet die “walvis-crèche van Suid-Afrika” genoem nie: In 2008 is ’n rekordgetal van 162 walvisse (62 kalfies) in die baai getel.

BLY HIER OOR

Huur ’n huis. Hier is meer as 100 huurhuise op Witsand – van vissershuisies tot ghrênd plekke met spoggerige meubels. Besluit hoe jy wil bly. Dit maak egter nie saak waar jy bly nie, die tariewe is billik en wissel afhangende van die huis, seisoen en aantal mense.

Kontak
Vakansie Akkommodasie: Witsand, Laritha Pretorius 082 922 9905

Bly in ’n hotel. Bederf jouself met ’n naweek in ’n kamer óp die rivier by die Breede River-lodge of bespreek die gesinskamer.

Slaan jou tent op. Witsand het twee netjiese munisipale kampterreine. Die een is op die dorp, terwyl die ander een nader aan die strand lê. Al twee het kragpunte en ’n sentrale ablusieblok.
Kontak 028 537 1627.